Die Vlaamperd of Vlaamse perd het nou wel nie sy oorsprong in Vlaandere soos dit wil voorkom nie maar wel net hier in Suid Afrika. Tydens die 19de eeu het die kenmerkende tipe perd totstand gekom in die voormalige Kaap Provinsie, toe die “Hantam Perd” genoem. Hierdie tipe perd is deur die gebruik van goeie gehalte Arabiese en van Volbloed Hingste ingevoer en ontwikkel deur Lord Charles Somerset in 1820.
Aan die einde van die Anglo-Boere-oorlog in 1902 is ‘n paar Fries hingste na Suid-Afrika laat kom deur ‘n Kaapstadse begrafnisondernemer. Daar word verneem dat daar in daardie tyd ‘n verbod deur die Nederlandse owerhede geplaas is op die uitvoer van Friesperde uit Holland. Om hierdie regulasies te ontduik, is die Friesperde verskeep vanaf die Belgiese hawe in Antwerpen, en van daar is hierdie Friesperd herdoop na “Vlaamse Perde”, met verwying na die hawe van waar hul verskeep is.
Die naam word algemeen aanvaar in die gemeenskaps taal en het ook die voorkeur-term geword om te verwys n die geslag van hierdie vroeë ingevoerde hingste. Hierdie Fries-hingste is gebruik op die “Hantam-perd” en ander merries. Die nageslag van hierdie telery het dan ook die fondasie geskep van die nuwe eg-Suid-Afrikaanse ras.
Dit moet egter beklemtoon word dat die Vlaam nie sy ontstaan net te danke het aan hierdie paar Fries hingste nie, maar ‘n ingevoerde “East-Fresian/Oldenburg hings, bekend as Kemp het ook ‘n groot invloed gehad op die teel van die Vlaame. Daar was ook invloed van ‘n paar “Cleveland-Bay Perde”. Hierdie eienskappe kan vandag nog in van die vlaamperde gesien word. ‘n Bekende hings, “Scheepers”, geteel (1930’s) deur deur die familie van der Merwe van Kwaggasfontein, Sutherland en verkoop in 1942 aan Mnr H Serdyn van Riebeek-Wes in die Swartland, het die heel grootste invloed op die hedendaagse Vlaamperd gehad. Dit het te weegebring dat die Vlaamperd ras sy oorsprong in die Wes-Kaap gehad het en wat dan ook vandag nog bekend is as die mekka van die Vlaamperd bedryf.
Die S A Vlaamperd Telersgenootskap is gestig in Bloemfontein in 1983. Dit is vandag ‘n gevestigde onafhanklike ras en word beskou as ‘n kosbare bate van Suid-Afrika wat groter erkenning verdien.
Die Vlaamperd is ‘n dubbeldoel ras wat gemaklik in die tuig sowel as onder die saal. In die tuig is dit byna ongeëwenaard, met graieuse optrede en stylvolle hoë aksie, terwyl onder die saal die ruiter verseker is van ‘n gemaklike beweging onder die saal en goeie dra-krag.
Die Vlaamperd is uiters aanpasbaar in enkel- sowel asl dubbel-tuig, as ‘n span van vier en ook ag. Die ras se pragtige voorkoms, rustige geaardheid en nog vele ander pluspunte, maak die Vlaamperd ‘n baie gewilde ras vir enige dissipline, hetsy van sport tot deel wees van die familie.
Vlaame, is hoofsaaklik swart, maar vaal-swart en donker-bruin word toegelaat by merries. Die ideaal bly egter pikswart. Die Vlaamperd se hoogte is tussen 14.2 en 15.2 hand. Dit is ‘n liggewig perd met ‘n fyn beenstruktuur.
Die Vlaamperd geniet al hoe meer aandag in die perdebedryf en groei saam met die toekoms.